top of page
  • ANNEMARIE BREMNER - Pro Agri

Mieliesaad met skop: Reik na die sterre met CAP 9021


Boere in die Natalse Middellande is vanjaar aangenaam verras met die uitstekende prestasie van Capstone se CAP 9021 wit bastermielie. Selfs ’n versigtige boer soos Jason Shewan van Grassy Park Dairy by Nottinghamweg, wat maar enkele hektare geplant het om die kultivar te toets, moes erken dit staan kop en skouers bo die res uit.

Jason sê dit is veral die siekteweerstand wat hom beïndruk het. Hy sukkel vanjaar baie met grysblaarvlek en die Capstone-land gaan beslis help om sy kuilvoermandjie vol te maak. Met meer as ’n duisend koeie wat gemelk word, moet ’n boer seker wees daar is genoeg voorraad in die spens! Hy gaan volgende seisoen meer CAP 9021 aanplant, maar sê hy sal net ’n bietjie vroeër moet plant, want hy wil graag vroeg in April sny en die mielies het toe nog drie weke nodig gehad om te droog.

Jason volg ’n geenbewerkingstelsel en die mielies is teen ’n stand van 73 000 per hektaar regstreeks in die onbewerkte land gevestig. Hy sê die mielies staan stewig ondanks hulle hoë groei. Francis Yeatman, ’n gewaskonsultant, wat saam met ProAgri en ’n span van Capstone ’n paar boere in die streek besoek het, meen die mielies sal nog beter presteer teen ’n laer plantestand – so 55 000 per hektaar.

Hy sê: “Die mielie groei miskien baie hoog, maar anders as baie ander kuilvoerkultivar hemelbesems, het die CAP 9021 ’n breë blaar. Ek glo met ’n bietjie meer ruimte en lig kan die vegetatiewe groei nog verder bevorder word.” Die kultivar word veral aanbeveel as kuilvoermielie, maar hy is òf redelik meerkoppig òf het ’n enkele lekker stewige kop en groot pitte wat goed maal vir graan. In die noordelike streke kan dit ook vir graan aangeplant word, maar in KwaZulu-Natal is dit by uitstek geskik vir kuilvoer. Dit is ’n medium tot lang groeier en hy neem lank om te droog.

Jason was versigtig om te skat hoe sy oes gaan lyk, maar Francis reken hy kan hom regmaak vir 65 ton, of meer, kuilvoermateriaal per hektaar. Steve Thompson, Capstone se verkoopsbestuurder in KZN, sê selfs na die uitgebreide ontwikkelingsproses en toetsaanplantings waardeur die kultivar gegaan het, het die basterkrag hom steeds verbaas. In gunstige toestande het dit meer as uitstekend presteer, maar die ware toets was prestasie in swak omstandighede.

Kanniedood

Naby Mooirivier was James Kean en sy gewasbestuurder, Bart de Bruin, redelik moedeloos toe die hele aanplanting op V5-stadium deur ’n kwaai haelbui platgeslaan is. Na die hael was dit twee weke lank droog en warm en Bart sê hy was gereed om alles maar grond toe te laat gaan toe die plante soos een man weer kop opgelig en begin groei het.

Die haelskade is duidelik sigbaar aan die onderkant van die mielies met omtrent 40% blaarskade en hulle het nie so hoog gegroei as wat hulle moes nie, maar daar gaan steeds ’n goeie voorraad kuilvoer gemaak word. Die koppe is ook lekker groot en het mooi gevul en Bart meen hy sal graskuilvoer moet inmeng vir die koeie sodat die proteïen- en veselverhouding reg kan wees. Hy is ook verbaas dat die mielies wat so ’n knou gekry het steeds deur die seisoen hulle siekteweerstand gehandhaaf het.

“Ons gaan dit verseker weer plant en meer daarvan,” sê hy. Met Capstone se toewyding tot die verkryging en ontwikkeling van konvensionele mielies vir die kommersiële boer wat nie tyd het vir sukkel nie, kan boere nog sulke staatmakers verwag.

“Ons is reeds besig om te kyk of ons die groeityd van die kultivar kan verkort, maar die uitdaging is om dit te doen sonder om in te boet op siekteweerstand,” sê Steve.

For the original article please visit the following link: http://www.proagri.co.za/mieliesaad-met-skop-reik-na-die-sterre-met-cap-9021/

123 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page